Main navigation








Klipkerk Wêreldfokus










Klipkerk Lichtenburg Sending - Oorsig


Eerste Sending Aksies
Die eerste sendeling in die Lichtenburg gebied was eerw HW Schulenburg wat in 1871 ’n sendingstasie op Rooijantjesfontein, ongeveer 25 km suid van Lichtenburg, begin het.

Reeds in die tyd van ds HJL du Toit het die Gemeente begin aandag gee aan sendingwerk. Wouter de Wet het sedert die vroeë 1890’s dienste op Manana vir die plaasgemeenskap gehou en einde 1898 tree evangelis, Paulus in diens van die Gemeente.

In 1908 beroep die Gemeente sy eerste sendeling, eerwaarde CA Roode. In 1914 word eerwaarde Roode as sendeling na Portugees-Oos-Afrika gestuur, maar in 1916 ontvang hy sy ontslag weens die moeilike omstandighede in die gebied waar hy geplaas is. Op 6 Mei 1917 word eerwaarde Roode weer as plaaslike sendeling in die Gemeente bevestig.

In 1908 word die Manne-Sendingbond en kort daarna die Vroue-Sendingbond in die Gemeente gestig. Die doelstelling was om sendingwerk binne sowel as buite die grense van die Gemeente te bevorder.

Tydens die toeloop van tienduisende mense na die delwerye in die 1920's en 1930's, het die Gemeente hierdie mense onder moeilike omstandighede bedien. In 1928 het die Gemeente ʼn eie evangelis, te wete AZ Mokuele, daar gevestig. Die gemeenteleraar, ds Piet du Toit het self ook op die delwerye dienste gehou en huwelike voltrek. In 1930 is ds Piet Lourens as hulpprediker op die delwerye aangestel. En in 1933 word eerwaarde J de Beer as ringsendeling georden.

Sendingkerke en skole is deur plaasboere op verskeie plase, soos Manana en Grootpan, opgerig.

Botie van Magwero en Mina Stoffberg
Ellie Botes, lidmaat van die gemeente, vertrek in 1912 na Midde-Afrika as sendeling. Sy begin in 1918 die skool vir blindes in Magwero, Zambië. (Hierdie skool vir blindes in Magwero bestaan steeds.) Mej Botes vertaal die Evangelie van Johannes in die Nyanja-taal en in Brailleskrif, en gee self ook onderrig in Nyanja asook in Braille.

Mej Stoffberg, vanaf 1938 as sendeling werksaam in Zambië waar sy ’n inrigting vir melaatses begin.

Sending in Sri Lanka
Die sendingwerk in Sri Lanka dateer terug na die Boerekrygsgevangenes wat tydens die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902, na Ceylon gestuur is. Ds A de Klerk, en later ds Skeen volg na die oorlog die werk van die Boerekrygsgevangenes op.

Na baie jare hervat die Wes-Transvaalse Sinode, olv ds Japie du Plessis (Delareyville), ds Eddie Botha (Klipkerk) en ds Willem Annandale ((Lichtenburg Wesgemeente) die sendingwerk in Sri Lanka op uitnodiging van Ds Thurairajah.

Bybelkiosk – ’n Droom wat werklikheid geword het
Een nag het ds Botha ’n duidelike beeld gesien van ’n Bybelkiosk by die busterminus van Lichtenburg – ’n punt waar ongeveer ’n halfmiljoen mense per maand vanaf Bophuthatswana verbybeweeg het.

Die droom het werklikheid geword met die inwyding van die Bybelkiosk op Sondag 13 Mei 1979, en die Evangelie is daagliks aan duisende mense gebring. Gesprekke is gevoer, gratis leesstof beskikbaar gestel, Bybels en ander geestelike boeke verkoop en geestelike musiek oor luidsprekers gespeel. Pieter Prinsloo, ouderling van Klipkerk het die Bybelkiosk op byna voltydse basis beman tot in die laat 1990’s toe ’n brand die Kiosk in puin gelê het.

Uit verskeie dele van ons land het navrae oor die Kiosk gekom; selfs uit Engeland was daar ’n navraag en ’n soortgelyke Bybelkiosk is in die Wes-Einde van Londen opgerig. Die klein liggie wat op Lichtenburg aangesteek is, het voorwaar deur God se genade ver geskyn.

Sendingvisie word uitgebou
Sam Salva Raj, ʼn leraar van Indië, het die Klipkerk in 1995 besoek en oor die Jesusfilm getuig wat effektief as evangelisasiemiddel in Sri-Lanka gebruik word. In dieselfde week daarna nog is die Jesusfilm-span gestig wat in die omgewing begin uitreik het. Die filmspan het later ook na Botswana uitgereik in die nedersetting Leporung. Dit is ook hier waar ʼn gemeente ʼn ruk later geplant is.

Die oorkoepelende Wêreldfokus aksie van die Gemeente wat in die 1990’s ontstaan het, sluit in die Amos-projek onder plaaswerkers, Hospitaal bediening, Lichthuis bediening, die Taxi bediening, uitreik met Jesus Film op plase, die sopkombuis, die Aksie-Uitreik met sendelinge plaaslik en in Botswana, en sendelinge wat tot aan die uithoeke van die aarde uitgestuur is.

Lande wat deur Wêreldfokus sendelinge bereik is, sluit oa Botswana, Zambië, verskeie ander lande in Afrika, Rusland, Madagaskar, Masedonië, Indië, Frankryk, Mosambiek, en die Midde-Ooste in.


Bron: Klipkerk Lichtenburg Eeufees Album